Sielsvriendskap!


In die snikheet van die middagson, heers daar ‘n stilte oor die vlakte van die Elalaagte. Soldate sit moeg en emosioneel uitgeput al starende vanuit hul tente oor die vlaktes heen en tuur. Elkeen se gedagtes oorvol van die afgelope geveg. Wapens is neergelê en die groot ontknoping van emosies is stadig besig om in elkeen se hart en kop te gebeur. Die ondenkbare oorwinning oor ‘n Reus wat hul as volk uitgedaag het, het elkeen sprakeloos. Dan verskyn die Koning, sy Seun en ‘n jong niks-merkwaardige vaaljong skaapwagter. ‘n Skaapwagter wat bedags na die skape omgesien het, en wat in ‘n oogwink in God se hand ‘n volk se grootste vyand met die mees eenvoudigste en onwaarskynlikste wapen neergevel het tot in die stof.


‘n Gesprek ontstaan. Soldate skuif moeg maar verlig nader en hang aan die woorde van die vaalseun. Die held van die oomblik. Die held van die Volk. Die, “met die hand gekiesde: kind van God! Die koning se seun het op ‘n klip hom sitgemaak. Die jongeling het die spoglig gehaal...die koning bied aan hom die geleentheid om met die soldate die eenvoud van sy braafheid te deel in woorde wat almal tot stille bewondering hom laat nastaar. Die koning is stil, vasgevang aan die braafheid van die vaal-jong-seun – Dawid.


Op ‘n klip sit die koning se seun, uit die spoglig, die koning se kind in die skadu van ‘n vaal-jongseun wat sy pa in vervoering het en met diepe dankbaarheid vervul het. Tog is daar nie ‘n greintjie jaloesie wat in sy hart opwel nie. Die oorwinning was vandag nie soos altyd aan hom te danke, maar aan die klein skaapwagtertjie, sy vriend, wat ‘n Reus met ‘n eenvoudige klippie of meer tot stof op die grond laat plof het. Die soldate en die koning het vergeet van die koning se seun, Jonatan, wat altyd die oorwinnings ingebring het, maar het in lof Dawid (die vaaljongseun – skaapwagtertjie) bewonder.

Jonatan het geen jaloesie gekoester, maar eerder vir Dawid lief gekry soos wat hy sy eie siel lief gehad het en ook aan hom ‘n spesiale geskenk gegee. Hy wat Jonatan was, wat ‘n uitmuntende boogskutter was, gee as geskenk aan Dawid sy eie gevegstoerusting, ook sy boog waarmee hy vele gevegte gewen het. In plaas van haat en jaloesie ontstaan daar by Jonatan ‘n lewenslange sielsvriendskapsliefde vir Dawid. Jonatan en Dawid sluit ‘n verbond, wat hul saamgebind het as plegtige belofte, dat hul mekaar sou ondersteun.


Tydens grendeltyd het ons almal ‘n vriend of vriendin nodig gehad om ons vrese en kommer en angs en emosionele ervarings mee te kon deel. Ons almal het iemand nodig gehad wat ons kon help vashou aan ons geloof. Iemand wat ons kon versterk terwyl ons vasgevang was in die liefdelose greep van ‘n onsigbare, ontasbare en onverstaanbare virus wat gekom het om te steel en te vernietig en chaos en vertwyfeling te saai. Ons almal het ‘n vriend of vriendin nodig gehad wat weer ons hand kon vat - oor afstand- en net vir ons weer kon verseker dat ons nie die kluts kwyt geraak het nie, dat ons nie alleen deur die omstandighede veg nie, dat ons met God se hulp tot alles in staat is, ook om die virus te oorwin. ‘n Vriend/vriendin wat vir ons kos gebring het soos wat die kraaie ook voorsien het aan ‘n honger en bang man wat weggekruip het. ‘n God wat ons bangtrane aanskou het as ons saans ons kussing omhels het en ons sag teen Hom nader getrek het en ons geseën het met Sy onvervangbare genade en vertroosting.


Tog was en is daar van ons wat nie die voorreg gehad het van so ‘n wonderlike ondersteuningsvriendskaps- of familienetwerk nie. Ons wat randfigure is, was baie keer erg afgesonder en moes soms onsself op maniere oortuig dat alles wel sal wees. Die Here se genade was en is so groot. Hy stuur ons gedagtes om terug te keer na Standvastigheid. Na Hoop. Na Geloof. Hy, die Heilige Gees, ontmoet ons in ons alleen en bang en weereens nog ‘n maal ‘n ervaring van verwerptheid deur almal wat omgee proklameer en die teendeel leef, na Sy Vader ons Ewige Vriend!

Hy stuur ons na ons Hemel Vriend wat ons verseker dat die dag van more weer sal kom. Dat die nag ons nie sal oorweldig nie. Dat die skure weer sal vol word en dat die liere wat ons in weemoed aan die wilgerbome gehang het, weer opgeneem sal word en ‘n vrolike en oorwinningslied gespeel en gesing sal word. ‘n Vriend wat ons heen kon hardloop met gevoude hande en gebuigde knieë -laag op die grond langs ons slaapkamerbed - daar ontmoet Hy ons hartseer en baie benoude hart. ‘n Vriend wat saans vir ons die komberse hoog tot oor ons getrek het en ons veilig en snoesig in Sy arms geneem het en vir ons ‘n wiegliedjie kon fluister tot ons in volle oorgawe ons liggaam en verstand in moegheid aan Hom oorgee.


Hy versterk ons in ons diepste oomblik van verwarring en wanhoop met mensvriende wat ons hande sterk maak en ons herfokus op die wondergenade van gesprek met God en die daarwees vir mekaar. Die sielsvriendskapsbande soos Jonatan en Dawid, wat uitreik na mekaar in nood. Hy herfokus ons gedagtes aan gesprek met Hom en die verlange van Sy hart dat ons Hom sal eerste lief hê en ook ons vriende en familie en almal om ons, soos onsself.


Soos Jonatan en Dawid bring ek aan God my beste en enigste waardevolle geskenk wat ek besit. Ek verseël dit met ‘n belofte aan Hom, dat ek vir altyd in liggaam, verstand en gees aan Hom sal getrou bly en aan hom die lof sal bring deur ‘n lewe van omgee en vriendskap te leef vir elkeen wat in hierdie lewe ‘n randfiguursetiket dra.


My gedagtes word gevul met die wonderlike woorde...

**What a friend we have in Jesus

Wat 'n vriend het ons in Jesus

He who stands in our place

Hy wat in ons plek wil staan

What a privilege to constantly

Wat 'n voorreg om gedurig

Approach God's throne through Him

Tot God's troon deur Hom te gaan

How often do we forfeit

Hoe verbeur ons tog

Our peace?

Die vrede?

Oh, how often do we suffer?

Ag, hoe dikwels ly ons smart?

Because we do not take our needs

Net omdat ons nie ons node

To God's father heart

Uitstort in God's vaderhart

(**This is my direct translation of the Afrikaans version)


Amen.


9 views0 comments

Recent Posts

See All